Skip to content
ink voor jy praat – Christi Gadd se bydrae tot Sarie-tydskrif, met die "Soos in Sarie"-kenteken en die artikel op 'n tablet.

Dink voor jy praat — woorde, stilte en herstel

Esther Perel stel dit eenvoudig:

“The quality of your life ultimately depends on the quality of your relationships — which are basically a reflection of your sense of decency, your ability to think of others, your generosity.”

Dít is die lens waardeur ek hierdie gesprek benader. Nie as ‘n lys reëls nie. As ‘n uitnodiging om na te dink oor hoe ons mekaar behandel — en watter impak ons laat wanneer ons praat.

Onlangs het Sarie my gevra om saam te dink oor ‘n vraag wat in my werk met paartjies gereeld opduik: wanneer loon dit om te praat, en wanneer om eerder stil te bly? Lees die volledige Sarie artikel deur Marguerite van Wyk.

Hier is my volledige bydrae tot daardie gesprek.

Bladsy uit Sarie se "Dink voor jy praat"-artikel met Christi Gadd se kommentaar — vierkantige uitsnit.
Soos verskyn in Sarie, Julie/Augustus 2026.

Hoekom dit loon om te dink voor jy praat

Kommunikasie is die kern van alle verhoudings. Jane Goodall het dit pragtig gestel:

“You cannot get through a single day without having an impact on the world around you. What you do makes a difference, and you have to decide what kind of difference you want to make.”

Dieselfde geld vir wat ons sê.

Die kommunikasienavorser Paul Watzlawick het lank gelede sy bekende stelling gemaak: ‘n mens kan nie nié kommunikeer nie. Selfs stilte is ‘n boodskap. En stilte is nooit neutraal nie. Dit kan reflektief wees, ‘n beskerming in ‘n verhitte oomblik, of die ruimte waarin begrip verdiep. In ‘n ander emosionele klimaat kan dieselfde stilte egter soos afstand, straf of verwerping voel. Die gedrag lyk identies; die betekenis verskil heeltemal.

Woorde dra ‘n besondere gewig, en hulle laat ‘n duidelike afdruk. Daardie afdruk vee nie maklik uit nie. Dink aan sosiale media: jy kan ‘n plasing verwyder, maar wanneer dit eers uit is, is dit uit. Skermgrepe bestaan. Mense onthou. Verhoudings werk dieselfde. Jy kan nie die seerkry terugvat deur te sê “ek het dit nie bedoel nie, ek was net kwaad” nie. As dit uit is, is dit uit.

Die vraag is dus nie net wat jy sê nie, maar of jy dit moet sê. Is dit waar? Is dit vriendelik? Is dit nodig? Soms is die eerlikste antwoord op al drie vrae: nee.

Wat jy prakties kan doen om jouself te keer

Die ou Afrikaanse gesegde sê: sit ‘n wag voor jou mond. Eenvoudig. Effektief. En tog so moeilik.

Een van die sleutelveranderlikes hier is tyd. Bewustheid (“mindfulness”) en meditasie help jou om stadiger deur die wêreld te beweeg — om die spasie tussen stimulus en respons te vergroot. Maar jy hoef nie ‘n meditasiekussing te besit om dit toe te pas nie. Die geheim is om ‘n persoonlike ritueel te skep wat jou net genoeg vertraag om te dink en te reflekteer.

Brené Brown het byvoorbeeld ‘n ring wat sy doelbewus draai voordat sy reageer — ‘n klein, fisiese teken aan haarself om eers te wag . . . en te kies. Jy hoef nie ‘n ring te hê nie. Jy kan asemhaal. Jy kan ‘n sluk water drink. Jy kan die woorde eers in jou kop sê voordat jy hulle hardop uitspreek, en vra: hoe klink dit? Hoe sal dit ontvang word?

Jy kan selfs die ou kinderliedjie vir jouself sing: “Keer jou tong. Keer jou tong van kwaadpraat. Keer jou tong.”

En hier is die paradoks: dit gaan nie daaroor om jouself onder sensuur te plaas nie. Eerlikheid is kosbaar — in verhoudings, in die openbare lewe, oral. Onuitgesproke emosies verdwyn ook nie sommer nie. Die sielkundige tradisie ná Freud beskryf juis hoe gevoelens wat ons wegsteek later, in leliker vorme, na vore kom. Die doel is om jouself die keuse te gee om te dink aan die impak van hoe die boodskap oorgedra word. Bewuste spraak is nie minder eerlik nie. Dit is meer menslik.

"Christi se raad" in Sarie se artikel "Dink voor jy praat" — Christi Gadd oor is dit waar, is dit nodig, is dit sorgsaam.
My bydrae tot die artikel — “Christi se raad” in Sarie.

As ‘n pynvolle boodskap uitgeglip het: hoe om jammer te sê en dit reg te maak

“Jammer” is ‘n begin. Maar dit is selde genoeg.

Die huweliksterapeute John en Julie Gottman beskryf wat hulle “repair attempts” noem — pogings om ‘n verhouding ná ‘n breuk te herstel. Die kern daarvan is nie die verskoning self nie. Dit is wat vóór die verskoning kom: erkenning. Die ander persoon het nodig om te hoor dat jy werklik verstaan hoe jou woorde of gedrag by hulle geland het.

Die eenvoudigste — en mees kragtige — vraag wat jy kan vra, is: hoe het my woorde jou laat voel? En dan: luister. Regtig luister. Nie om te verdedig nie, nie om te verduidelik nie. Net om te hoor. Om te sit en hoor hoe jou woorde iemand anders geraak het, is ongelooflik moeilik, maar dit is presies waar genesing en verandering lê.

Eers wanneer die ander persoon voel dat hulle gehoor is, is hulle gereed om ‘n verskoning te ontvang. Daardie volgorde maak die verskil. “Ek is jammer as jy seergekry het” skuif die verantwoordelikheid na die ander persoon se gevoel — dit impliseer dat hulle eintlik die oorsensitiewe een is. Eienaarskap klink anders: ek sien wat ek gesê het, ek verstaan hoe dit by jou geland het, en ek is spyt dat my woorde jou seergemaak het.

Daarna kom verandering in gedrag. Verskoning vra dra geen waarde as ‘n mens oor en oor dieselfde wond veroorsaak nie. Dit wys die erkenning het nie regtig geland nie.

En onthou: die hoe saak meer as die wat. Toon, tydsberekening en bedoeling bepaal of kommunikasie nabyheid of konflik skep. Dit gaan nie oor reg of verkeerd nie. Dit gaan oor verbinding, herstel en die bereidheid om die brug te herbou — al voel dit seer, vernederend of rou.

Christi Gadd Kliniese Sielkundige & Neurosielkundige JLT Dubai
Christi Gadd Kliniese Sielkundige & Neurosielkundige JLT Dubai

Hoe om ‘n afspraak te maak

Ek is ‘n kliniese sielkundige en neurosielkundige met ‘n besondere belangstelling in verhoudingspatrone en intimiteit. Ek werk voltyds by die Thrive Wellbeing Centre in Dubai. As hierdie gesprek by jou aanklank vind en jy graag wil kom werk aan die manier waarop jy en iemand na aan jou met mekaar praat, is julle welkom om ‘n afspraak te maak.

Kontak Thrive Wellbeing Centre: reception@thrive.ae · +971 56 895 2347 · +971 4 514 7386.

‘n Weergawe van hierdie stuk het oorspronklik in Sarie verskyn (Julie/Augustus 2026), saamgestel deur Marguerite van Wyk.

 

Vind my by Thrive Wellbeing Centre for afsprake:

Thrive Wellbeing Centre https://www.thrive.ae
reception@thrive.ae
+971 56 895 2347
+971 4 514 7386

Comments (0)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Back To Top